Menu Close

Unchain Our Children en die Afrikaanse Toekomstrust Suid-Afrika (ATTSA) span kragte saam

Suid-Afrika se Grondwet beskerm en stel kinders se regte hoog op die agenda, maar in realiteit is ’n groot deel van Suid-Afrika se kinders kwesbaar, weerloos en onveilig.

“Daar was onlangs ekstra fokus op ons land se kinders met nasionale Kinderbeskermingsweek, maar die welstand van ons land se kinders is vir die Afrikaanse Toekomstrust Suid-Afrika (ATTSA) van kardinale belang en hoog op ons lys van prioriteite,” het Dinah Bronkhorst, ATTSA uitvoerende hoof gesê.

“Die ondersteuning van kinders in nood is ’n sterk deurlopende tema in meeste van ons projekte hier by ATTSA. Ons is egter terdeë bewus dat om saam te span met ander eendersdenkende organisasies ons versterk. Om die rede het ons besluit om hande te vat met Unchain Our Children in ons pogings om ons kinders te beskerm, by te staan en te beveilig.”

Unchain Our Children is ’n nie-winsgewende organisasie wat poog om te help in die stryd teen kinderprostitusie, kindermishandeling en ander skendings van menseregte.

Ons werk deur middel van direkte ingryping, opsporing van vermiste en uitgebuite kinders, berading van individue wat in gevaar is en inisiatiewe om die huidige voorkoms van mishandeling/uitbuiting te verminder.

ATTSA en Unchain Our Children het ’n samewerkingsooreenkoms gesluit.

“Volgens dié ooreenkoms gaan ons hulle help met bemarking en blootstelling. Ons gaan ook projekte saam met hulle aanpak,” het Bronkhorst verder gesê.

“Ons sal nooit te veel vir ons kinders kan doen nie en daarom sal ons altyd poog om soveel as moontlik te doen. Die ekstra myl moet vanselfsprekend wees as dit kom by ons kinders en hul veiligheid en die versekering van hul toekoms. Ek is ongelooflik opgewonde oor die pad wat ons saam met Unchain Our Children gaan stap. Die potensiaal is groot en ek weet ons kan en gaan ’n verskil maak.”

Leave a Reply